Baie kenners beskou die mammogram, wat in wese ’n X-straal-foto van die bors is, as die beste manier om borskanker vinnig op te spoor.
“Die wetenskap toon dit verminder sterftes weens borskanker by vroue bo 40 met 40%,” sê dr. Heleen Hanekom, radioloog en lid van die borskankersorggroep by die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion, Gauteng.
As borskanker vroeg gediagnoseer word, kan dit behandel word met metodes wat minder aggressief en ontwrigtend is as dié vir gevorderde kanker, verduidelik dr. Vuyelwa Bha Ndungane-Tlakula, mediese direkteur by Pfizer South Africa. Die ideaal is om die kanker binne 60 dae nadat die eerste simptome merkbaar geraak het te laat diagnoseer, sê dr. Jenni Noble, funksionele hoof van onkologie by Medscheme. Jy moet dus dadelik toetse ondergaan wanneer jy onraad vermoed.…