HY SIT voor sy sketsbord, ’n pen in een hand, sy bril in die ander. Diep aan die dink. Die horlosie tik, ’n spertyd kruip nader, en Jonathan Shapiro het nog steeds nie besluit oor wie sy volgende spotprent sal gaan nie.
Miskien Donald Trump. Miskien iemand anders.
Wie en wat het hy nog nié geskets nie?
Dekades lank al ryg Suid-Afrika se beroemdste spotprentkunstenaar die een karikatuur ná die ander uit. Hy’s Zapiro, en álmal ken sy werk. Die politici ook, want dis veral hulle wat aan die kortste ent van sy potlood trek.
As ’n mens kyk na hoeveel van dié spotprente hy elke week skep, lyk dit amper maklik, maar Jonathan sê dis glad nie die geval nie. Hy moet drie spotprente per week lewer, en dikwels…