AL was dit ’n kort en vinnige parsseisoen, sien wynmakers daarna uit om uitstekende wyne uit die 2020-oesjaar te skink.
Mnr. Niël Groenewald, besturende direkteur van Nederburg, som die oes op as “geurig, lieflik, maar kort”. Die plukseisoen was sowat twee weke korter as gewoonlik, en wingerd- en kelderspanne moes bontstaan om die druiwe betyds te oes en te verwerk.
Groenewald sê wingerde het egalig gebot en druiwe het oor ’n lang tyd eweredig ryp geword. “Die reën het op die regte tyd geval. Die wind, hoewel by tye redelik sterk, het die siektes weggehou en die wingerde afgekoel.”
Nederburg se gemiddelde opbrengs is 9 t/ha, wat ’n verbetering vergeleke met verlede jaar is. “Die trosse was dalk bietjie groter, maar die korrelgrootte was feitlik ideaal, met ’n goeie dop-tot-vrugverhouding.”…