‘Wat sê jy?” groet Simon Witbooi. (Of Hemel, of Besem.) Jou keuse.
En “lekker man, lekker”.
Sy oë, lewendig, blink, kyk jou vas aan. ’n “Strak” blik, beskryf die geskiedskrywers sy groot-grootoupa, kaptein Hendrik Witbooi, Namakoning en Namibiese volksheld. Jy kry skoon rillings as jy kyk na die Namibiese N$10-, N$50-, N$100- en N$200-banknoot met sy gesig daarop. Daai oë, daai kyk, selfs die bokbaard deel hy met sy nasaat.
Simon is die man wat Steve Hofmeyr se “Pampoen” ’n hiphop-straatkleed aangetrek het. Hy stel ook Annelie van Rooyen se “Ek wil jou ken” aan ’n nuwe generasie Afrikaanssprekendes voor. Verwerkings van Karin Hougaard se “Kruietuin” en Carike Keuzenkamp se “Kaalvoet in die reën” kom nog.
Simon, Hemel, of Besem: Hy is lief vir Afrikaans en verskuif gereeld die grense…
