’n Blóú blou wat sommer met die eerste kykslag respek afdwing. ’n Diep see-blou. Dis dié skakering vir 2016, voorspel die kleurkenners. Die prentjie klop, so saam met die Olimpiese Spele volgende jaar in Rio de Janeiro. Die karnavalstad wat juis teenaan ’n oseaan lê en beeldskoon weef om bekende strande – Copacabana, Ipanema, Leblon. Die stad met woema waar Chad le Clos en Cameron van der Burgh en Roland Schoeman hopelik ’n barshou vir SA sal swem en ’n nasie sal trots maak.
Betroubare blou, die see, die Olimpiese Spele. Als pas netjies, nè? Mooi in ’n boksie.
Hoe spontaan doen ons dít nie? Ons plaas graag mense en dinge in kassies. Ons orden uit tweede natuur: gewoon, ongewoon; lank, kort; reg, verkeerd; lekker, sleg; in, uit; wit, swart.…
