Dis weer ’n halwe dag, al die gewone ure, maar ’n beperkte belewenis. Het ek tee gedrink? Ek kan nie onthou nie, ek het niks geproe nie. Ek weet Diane het gebel, ons het gelag, sy’t iets gesê oor haar nuwe hondjie, maar ek kan nie regtig onthou nie. Ek weet daar was middagete, die res het my snaaks aangekyk toe ek die bord voor my weggestoot en gaan roomys inskep het. Ek was lus vir die koue, dit maak my minder benoud.
Daar is boodskappe op my foon, ’n klomp, bel asseblief terug, so gou as moontlik. En gewoonlik doen ek dit, ek is mal oor ’n foongesprek, ek rek dit uit so lank as moontlik en stap terselfdertyd ’n kilometer of twee. Maar nie op halwe dae nie,…
