Dit klink soos ’n droomwerk om dag in en dag uit, dikwels tot by jou skouers, omring te wees deur blomme. Dahlias, ranonkels en anemone. Pronkridderspore, hanekamme, kantblomme, koringblomme, kosmos, krismisrose, leeubekkies, Yslandse papawers. Vingerhoedjies, angeliere, floksies, stokrose, jakobregops, duiwelindiebos…
Adene Nieuwoudt lag en knik haar kop. “Jaaaa, ek het ook eens op ’n tyd so ’n romantiese prentjie in my kop gehad,” sê sy langs die kombuistafel op die Nieuwoudts se vrugteplaas, Platvlei, waar haar man, Andrew, en sy broer, Guy, met pere, pruime en sitrus boer.
“Ek ís mal oor my werk en dit ís ’n voorreg om elke dag soveel skoonheid om jou te hê, maar dit ook nie nét rosegeur en maneskyn nie. Blomme is baie harder en meer arbeidsintensiewe werk as vrugte – en glo…