Hier is eers ’n stilte wat jou ore laat suis voor die ander geluide: Die blêr van skape in die verte, ’n stem wat hulle aanjaag, ’n windpomp wat kraak, ’n bakkie wat elders luier.
Klim douvoordag die koppie uit waarop “Murraysburg” pryk en kyk wyd. Hierdie is diep Karoowêreld, maar nie droog, dor en plat nie.
Die Sneeuberg, met Spitskop se knoets wat oor die landskap toekyk, strek ooswaarts. Na die suidweste lê geil gannaveld. Die Buffelsrivier kronkel digby die dorpie verby en maak van dié wêreld ’n vrugbare oase. Murraysburg is in die noordwestelike hoekie van die Wes-Kaap. Op die R63, sowat 42 km van waar die N1 meedoënloos tussen Richmond en Beaufort-Wes verbysleep. As jy wil groot inkopies doen, moet jy ry na Graaff-Reinet (Oos-Kaap) of Victoria-Wes…
