Sodra die groot rooi tas uit die kas gehaal word, begin die ore hang. Terwyl jy pak, hou Snippie jou dop en hoop jy voel te skuldig om in die pad te val... Alle hondeeienaars ken dié scenario. Ons het twee honde: Orio (6), ’n Biewer-terriërreun, weeg net meer as 2kg en is die baas van die huis – hoewel Buckley (2), ’n golden retrieverreun, 20 keer swaarder is. Buckley en Orio het elke dag drie hoogtepunte: etenstyd, staptyd en die belangrikste, wanneer ons saans ná werk tuis kom.
Deur die dag lê hulle in die skaduwee van die boom in die agterplaas. Nou en dan as ’n naderende motorenjin soos ons s’n klink, spring hulle op en hardloop na die agterdeur. Wanneer ons uiteindelik stilhou, word daar geblaf, getol…
