My nuwe paspoort het gekom – verbasend vinnig, dankie, Binnelandse Sake – en teen dié tyd weet ek wat vir my ou een voorlê. Dit gaan iewers in ’n laai begin stof vergaar, want ek is sentimenteel oor sulke goed, en gooi nie sommer weg nie. (Ek bêre stiffy disks uit die 1990’s, waarvoor die rekenaars nie eens meer bestaan nie...)
Daarom, voordat die stempel se ink begin vervaag, blaai ek vir oulaas deur dié getroue vriend wat my oor die afgelope agt jaar toegang tot soveel avontuurlike bestemmings gegun het. Dit het gaan draai in die Kongo, is al gestempel in die Durbanse hawe, én op Tristan da Cunhaeiland, halfpad Argentinië toe. Dit was in Entebbe, Uganda, bo-op die Andes in die rigting van Chili, én by Ongeluksnek op…