Die N2 suid van Durban se King Shaka- internasionale lughawe is laatmiddag op ’n doodgewone Woensdag woes besig: Lorries dreun, vlae word geswaai by padwerke, motoriste swenk tussen bane...
Gelukkig beloof die bruin padbord met die bekende sambreeltjielogo en brander ’n rustiger plek. Die Suidkus wink, en gou raak die verkeer minder. Groen heuwels strek tot op die einders. Piesangs en avo’s is langs die pad te koop.
Dorpies se name flits verby: Hibberdene, Port Shepstone, Shelly Beach, en die groot vakansiedorp, Margate...
Ek is op pad na Port Edward, KwaZulu-Natal se mees suidelike kusdorp, langs die R61 en digby die Oos-Kaap se grens. Soveel so dat dit bekend staan as die poort tot die Wildekus, of, soos baie mense daarvan praat, die ou Transkei.
Die dorp is in 1925…