Soos wat enige goeie en volwasse liefdesverhouding betaam, is ek versot op Suzi Quatro, my klein olyfgroen Suzuki Jimny, ondanks al haar tekortkominge. Sy’s nie prakties nie – net drie deure en ’n piepklein kattebak wat eintlik net bruikbaar is as jy die agterste sitplekkies heeltemal platslaan. Sy’s ook nie vinnig nie. Op die teerpad moet jy jou verbysteekslae ’n week vooruit beplan, en enige spoed vinniger as 110 km/h voel onbetaamlik. Want Suzi is so aërodinamies soos Ox Nche, maar Ox se hart klop veel sterker as die 1,5 ℓ-enjintjie onder die Jimny se enjinkap.
Maar hoe rowwer en onbeskofter die omgewing, hoe meer gedug is my klouterkabouter. Soos ’n dapper muis, is daar niks – sand, duin of klippe – waarvoor sy skrik nie. En as ’n stadsmotortjie…
