My broer, Deon van der Merwe, en sy vrou, Danielle, se heel eerste staptog was vier jaar gelede op Suikerboschfontein. Sedertdien kan hulle by famieliekuiers steeds nie uitgepraat raak oor die naweekroete óf die plaas buite Carolina, Mpumalanga, nie. Dit gaan ook gewoonlik gepaard met die gespog van foto’s op hulle selfone. Foto’s van ’n voetpad wat deur diep valleie kronkel, watervalle en strome, leertjies waarmee ’n mens teen rooi kranse uitklouter… Met die eerste melding van Suikerboschfontein was ek reeds vas oortuig om ook die roete te stap, maar ek en my man, Hancu, kon vanjaar eers daarby uitkom.
Ons vertrek vroegdag uit Johannesburg. Met net ’n raps meer as 250km se ry kan ’n mens maklik eers die Saterdagoggend die pad vat én nog genoeg daglig hê vir…