Europese swaels stip die blou lugruim soos flentertjies roet. Terwyl jy nader aan die waterrand stap, begin rooipootelsies en bontkiewiete protes aanteken. Kemphane en groenpootruiters vlie’ op. Die sterretjies, reiers en duikers wat op eilandjies dieper in die water sit, is min gepla. In die somer wemel die vleiland in die Rooisandnatuurreservaat net buite Kleinmond behoorlik van die voëls!
En asof dit nie reeds genoeg van ’n ekstravaganza is nie, wei hier ook ’n paar wilde perde tussen die biesies en fynbos. Waar anders kan jy laatmiddag ná werk gou uitry na ’n vleiland omring deur berge met ’n swetterjoel voëls én wilde perde?
Ja-nee, die Kogelberg-biosfeerreservaat, waarvan Rooisand deel uitmaak, is een van die mooiste, wildste plekke in Suid-Afrika: Berge, see, strome, watervalle, fynbos, veldblomme...
Die biosfeerreservaat (sien kaart…