Sedert ek my verstand het, soos die ou mense sê, woon my ouma en oupa op die onderverdeelde plase Mistkraal/Geelhoutbos in die Baviaanskloof. Dis die 1960’s en daar is ses huise op die plasies, waarvan vier nog bewoon word. My ouma-hulle woon in die nederigste een, maar daar’s ’n mooi belhambraboom waaronder ons ure lank tussen die stamwortels karretjies speel.
My ouma-hulle is selfversorgend: alles wat hulle nodig het, kom van die plaas af. Hulle slag hulle eie bokke, eet hulle eie henne se eiers en al die groente kom van my oupa se lande. Wat hulle nie self kweek nie, ruil hulle by die ander familie en boere in die omgewing. My ouma bak brood, beskuit en koekies. Al wat hulle ooit koop, is meel, suiker en koffie. Wanneer…