Die Karoo hou van stap. Dan kan hy rustig gesels en klein goedjies uitwys. Hier in die Baviaanskloof is hoeka een van die mooiste roetes in ons land, die Luiperdroete (dalk meer bekend op sy Engelse naam, Leopard Trail), en dis waar ek, my vrou, Daleen, en ons vriende Japie Kruger, Dawid de Wet en Rupert Koopman vroeg in Juniemaand aanmeld. Dawid se vrou, Karlien, en twee van hulle vriende het kort voor die stap vasgedraai en kon nie meer saamstap nie. ’n Groot jammerte – veral vir Daleen wat toe vroualleen na die manne se gehuil oor seer knieë en Protea-krieket moes luister...
As jy die Baviaanskloof van die oostekant, van Patensie, af benader, begin jy in beboste berge en tussen lemoenboorde. Aan die westekant, by Willowmore, spoel jy…