Of ’n mens die Kgalagadi-oorgrenspark van die Kaap of Gauteng af benader, ry jy nie sommer by die dorpie Askham verby nie. Dis hier, 73 km van die park se Twee Rivieren-hek af, waar jy bene rek, jou voertuig en jerriekanne vol brandstof maak en jou biltongvoorraad by Kalahari Meat aanvul.
Dis ook hier, vroegmiddag aan die einde van Februarie, waar ek en my vrou, Ronel, begin besef dat ons eerste besoek aan die legendariese park dalk anders gaan wees as verwag.
Droë hitte, hope sand en sandduine, min water, diere saamgedrom om watergate... dís wat ’n mens voor jou geestesoog sien. Ja, dis hetig wanneer die Jimny se deur oopswaai, maar dis die onverwagte humiditeit wat jou met ’n klam vuis teen die bors stamp. En horison se kant…