Sodra ek deur die Bothmanskloofpas ry, vou die vallei voor my oop, oortrek met ’n lappieskombers van wingerde, olyfboorde en graanlande. In die verte draai windturbines aan die voet van die Winterhoekberg en as jy fyn kyk, sien jy die groen kronkel waar die Bergrivier deur die landskap kerf. Onder, aan die voet van die pas, is die geboue van Riebeek-Kasteel en sy sustersdorp, Riebeek-Wes. Die Khoi-mense was die vallei se eerste inwoners lank voor die Europeërs opgedaag het. ’n Ekspedisie onder leiding van Pieter Cruythoff is in 1661 deur Jan van Riebeeck beveel om dié hinterland te verken. Die ekspedisie se dokter, Pieter van Meerhoff, se veldnotas vertel dat die geselskap op 2 Februarie 1661 ooswaarts oor die Kasteelberg gereis het. Aan die ander kant sien hulle ’n lieflike…