Niemand is gereed vir wat volgende gebeur nie. Jacques Pienaar maak die stoor se deur oop en ons almal staan verstom.Hier, onder die sinkdak van die plaas Winterberg se stoor, is ’n versameling veteraanmotors: Reg voor ons, ’n ivoorwit Mercedes Benz 220S uit 1959, na links ’n ligte Crème Sodagroen 1953 Morris Minor, en regs ’n 1930 Model A Ford Woody – met bakwerk gedeeltelik van hout. Verder na agter, ’n 1951 Chev Sedan, ’n 1930 Model A Ford Sedan… elders is daar gerestoureerde trekkers.
Jacques en sy vrou, Wilna, se plaas lê in die middel van nêrens tussen Beaufort-Wes en Murraysburg. Ons is al amper ’n uur hier, maar kom nou eers by die karre uit, want Wilna het tee en versnaperinge gereed gehad op die stoep, en ons…