Grahamstad, Maandag 18-11-63
My liefling, my Kokon,
Ek moes al geskryf het, en ek wou en tog was alles nog eintlik onsegbaar, té tenger om met woorde aan te raak. Veral omdat die terugkom hier so ’n terugtuimel was in banale realiteite van eksamenskrifte nasien, opgehoopte werk organiseer en – swaar – leer aanpas by ’n lewe-sonderkommunikasie.
Liefling, van ons laaste, amper surrealistiese, nag is alles eintlik ’n eienaardige, ongeloofbare en vaag skrikwekkende dwarreling. Was dit ons wat daarin betrokke was? Het ons dit gesê? Waar – en hoekom het alles dan skielik op ons afgekom?
En tog as ek die week in ’n geheel sien, dan bly dit een van openbaring; dan het ons deur en ten spyte van al die opwellings op ’n dieper manier by mekaar uitgekom…
