Die wêreld het mal geword, ja, maar veel erger nóg: dróóg. Báie droog. Terwyl seker maklik die helfte van Suid-Afrika oggend-middag-en-aand jeremiades sing oor die doen en late en streke van ons eie president, en die helfte van die mensdom bokse Imodiums verslind om oor Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse verkiesing te kom, heers daar hier aan die suidpunt van die vasteland ’n rampspoedige waterskaarste, blykbaar die ergste in meer as 100 jaar, wat op die langtermyn veel meer skade kan aanrig as selfs die wispelturigste president.
Intussen raak ons damme ál leër, die waterbeperkings ál strenger en die biddae vir reën al hoe meer, maar ook so die jubelgesange wanneer daar wel die slag ’n skaflike bui reën uitsak. A, nou kan ons darem weer ’n bietjie…