Robyn Ferraz staan op die stoep van haar Watchtowerkothuis, ’n rooiklipgebou wat op ’n hoogtetjie in die landskap hurk. Van hier het ’n mens ’n ongelooflike uitsig oor die plaas van 122ha wat sy die afgelope sewe jaar bestuur. “Ek is mal oor die plek en hoe mooi dit is,” sê sy en beduie na die golwende groen heuwels, nog blinknat ná ’n laatsomer-donderstorm. “Toe ek ’n kind was, het ons vakansies hierheen gekom.”
Maar Robyn se pad na die suidelike Drakensberg het vele draaie geloop voor sy en haar familie hulle op die nou bekende Splashy Fenplaas gevestig het. “Ek was 17 toe my ouers in 1980 hierheen verhuis het, maar voor dit het ons nogal baie getrek – my pa, Peter Ivens-Ferraz, was ’n joernalis,” sê Robyn, wat…
