As jy ’n denkbeeldige driehoek sou trek tussen Calvinia, Loeriesfontein en Brandvlei in die Noord-Kaap, lê die plaas Klipwerf rofweg in die middel.
Hierdie geweste, sowat 60km noordwes van Calvinia, staan bekend as die Agter-Hantam. Die Hantamberg maak behoorlik skouers oop op die westelike horison; na die noorde strek die Boesmanland eindeloos.
Dis ’n landskap wat teenstrydighede verwelkom: hárd maar mooi, geïsoleerd maar nie noodwendig eensaam nie.
Die gemengde Karooveld met onder meer skaapbos, boesmangras, bitterbos en gannabos is by uitstek skaapwêreld. In die stede vrees ons boewe; hier hou jakkalse en droogtes die boere snags wakker. Onlangs het dit glo die eerste keer sedert 2011 hier rond gereën...
Op ’n oop kol tussen koppies en rante, langs ’n windpomp en groen watertenk, staan ’n beskeie saaltjie. Dis in die…