Op hierdie drukkende Maandagoggend in Skukuza se personeeldorpie sketter ’n randsnyer byna net so skril soos die sonbesies. Dis skoolvakansie en ’n paar seuntjies bons uitbundig op ’n trampolien in ’n voortuin. In die dorpswembad word vlinderslag geoefen, en by ’n huis oorkant die straat staan en was ’n vrou haar sitkamerruite. Alles lyk gewoon. Burgerlik. Selfs die straatname eggo die oorbekende formule: in die wynland bly mense in Chardonnaystraat of Rieslinglaan; hier in die Laeveld lees die bordjies Grysbok, Nyala, Duiker… Dis ’n dorpie nes honderde ander in ons land. (Maar bygesê, hier is nie winkels nie. Ook nie vulstasies, ’n Virgin Active, ’n fliek, restaurante of enige ander vermaak nie.)
En sodra ’n mens fyner kyk, sien jy rooibokrammetjies op die gholfbaan se sewende setperk kopstamp. Vlakvarke wei…
