Die R303 is die aar wat die dorpies in die Koue-Bokkeveld verbind. Van Citrusdal af kruip dié pad deur bergreekse wat lyk soos Lego-blokkies wat op mekaar gestapel is – die Middelberg, Sederberg, Skurweberg én Koue-Bokkeveldberg – verby die dorpies Op-die-Berg en Prince Alfred Hamlet en oor die Gydopas tot op Ceres.
Hier omvou die berge van die steenvrug- en sitrusboorde, riviere en bergpoele, tot die dorpies en hulle mense. As jy dus op, af en oor berge wil ry Kaap toe pleks van met die reguit N7 deur die Swartland, klim op die R303, draai jou ruite af en kry perspektief. Berge doen dit aan ’n mens.
Ek, my vrou, Katherine, en ons 10 maande oue dogtertjie, Daisy, mik saam met die son vir die horison bo Citrusdal se…