As gebore Namakwalander hunker ek na uitspan by water wanneer ook al ek kan, veral in Desembermaand. Die Atlantiese Oseaan by Port Nolloth is 145 km van Springbok af en deesdae teerpad. Maar 60 jaar gelede, in my kinderdae, was dit meestal grondpad soontoe en ’n hele optog. Net suid van Port Nolloth lê McDougallsbaai wat ons gesin se bestemming was vir somervakansies.
My ouers sou vir my en my broer op Springbok in die ou Kombi laai, en dan het die groot trek see toe begin: verby Okiep, dan Steinkopf (waar jy wes draai), Klipfontein (waar daar lang jare gelede ’n hotel was wat die stoomtrein bedien het wat koper en passasiers vervoer het na “die Port” se hawe), af met Anenouspas, verby Xnoasies, oor Grasvlakte en uiteindelik tot…