Jare gelede, in ’n vorige loopbaan en ’n ander lewe, het ek en my gesin vir drie jaar in Washington DC, Amerika, gewoon. Daar het ons gereeld by Costco (soos ons Makro, maar op die sterkste opkikkers denkbaar) gaan inkopies doen. Jy kon, ongeag die seisoen, enige vrug of groente koop wat van reg oor die wêreld ingevoer is.
Enorme piesangs, vlekkelose, ferm perskes, bloedrooi tamaties... Alles het pragtig gelyk, maar soos meel en wind geproe: Dit was gekweek en behandel om weke lank in skeepshouers “vars” te bly. In ’n verbruikerswêreld waar alles altyd beskikbaar moet wees, het produkte hulle smaak verloor.
As jy bereid is om ’n tikkie gerief in te boet en toelaat dat die seisoene jou lei, is daar wel deksels baie lewenslekker te proe. En…
