Zambië se nuwe president, Edgar Lungu, sal beleggersvertroue moet herstel ten einde werksgeleenthede te beskerm en die ekonomie, wat swaar op die uitvoer van koper steun, te laat groei.
Michael Sata, die vorige president wat in Oktober oorlede is, het met ’n rits maatreëls die ekonomie ontwrig en beleggersvertroue geknou, sê Gary van Staden, ontleder by NKC Independent Economists. Mynreggelde vir oopgroefmyne is onder meer in Januarie van 6% tot 20% verhoog en buitelandse mynmaatskappye waarsku dat dit enorme werksverliese sal meebring en beleggings sal verdryf.
Die aankondiging oor hoër mynreggelde, ook ’n verhoging van 6% tot 8% vir ondergrondse myne, is kort voor Sata se dood gedoen. Terwyl ander aanspraakmakers op die presidentskap onderneem het om die besluit te hersien, het Lungu, leier van die Patriotic Front (PF), geen…