MET die oopmaak van die halsstarrige luik voor die venster dink sy aan die woorde van Jan F. E. Cilliers wat sy iewers op hoërskool moes ontsyfer: “Puur al-omwelwend asuur …”
So het die digter die uitspansel bo ’n Hoëveldse vlakte beskryf. Asuur, het sy in juf. Kleynhans se klas geleer, is ’n hemelsblou kleur.
Vandag pas die beeld volmaak om die wye see voor haar te beskryf. Sy het nooit geweet hoeveel skakerings van blou daar is voor sy hier op die eiland Praslin in die Seychelle geland het nie.
Hemelsblou, poeierblou, asuur, akwamaryn, turkoois, bergblou, babablou, blouselblou, indigo, koringblomblou, siaan, silwer, grys en natuurlik asvaal. Elkeen van hierdie skakerings het sy iewers al gesien hier op die eiland en in die see wat dit omring.
Die verblyf op…