HY WAS besig om sy winkel vir die aand toe te maak toe hy die hulproep hoor. Rendani Vhulade het eers gedink dis sy verbeelding – dit was al ná agt, en sy kitskosonderneming se kombuis was al gesluit.
“Ek het eers gedink ek hoor verkeerd,” sê hy. “Toe ek by die hek kom, het ek vier Indiërseuns in skoolklere daar sien staan.”
Dit het hom onkant betrap – dié orrelpypies met hul oop gesiggies op ’n plek waar ’n mens die vier seuns nie sou verwag nie. “Dit was reeds ’n verrassing, want ons sien nie dikwels Indiërmense hier nie,” verduidelik hy.
Hy het sy meisie, Stephina Kulani Simango, gaan roep, en sy het dadelik besef wie die vier seuns is: die Moti-broers, Zidan (7), Zayyad (11), Alaan (13)…
