DIS toe een van daai Bolandse Saterdagoggende. Bewolk, nat en ysig.
Nie juis waaroor jy droom wanneer jy ’n troue beplan nie. Maar hier’s hulle nou, tussen die wingerde en olyfbome van Nooitgedacht by Stellenbosch – die akteur Gideon Lombard en sy bruid, dr. Olga Rademan. Uitgevat, verlief, en reg om mekaar in die oë te kyk en te sê: Ja, ja en ja.
“ ’n Mens beplan mos maar met mooiweer in gedagte,” sê Gideon. Dis koud, die wind waai, maar niemand gee regtig om nie. Want in die kapel is dit warm – van liefde, van vriende, van die soort energie wat mense bymekaar bring.
En toe stap sy in. Olga, in haar wit A-lyn-trourok, netjies tot by haar kuite, ’n noupassende bostuk wat haar lyf perfek komplementeer.…
