Die trouringe was skaars aan dié twee se vingers, toe begin hulle hul eerste versameling. Op elke dorpie waar hulle tydens hul wittebrood stilgehou het, moes hulle ten minste een vintage-botteltjie koop. En daar het dit nie opgehou nie. Toe die skoolvoorligter en die hout-en-metaalwerkonderwyser eers aan die gang kom, was daar nie keer nie.
Deesdae werk Thea-Rita in die familiebesigheid en Werner is afgetree, maar elkeen volg steeds sy/haar eie passie. Werner is lief vir alles wat met whisky te doen het, miniatuurmotors en ook ander motormemorabilia. Op haar beurt maak Thea-Rita die lys op haar foon oop – alfabeties werk ons deur aluminiumemmers, boeke (rooi), Bovril, doilies (wit), emalje met prints, emalje-piepiepotte, geborduurde linne, glaskershouers, handsakke, jellievorms (glas en aluminium), melkglas-items, roomysskeppers, swane, tasse, ensovoorts, ensovoorts. As ek…