Pienk. Bloospienk, roospienk, malvalekkerpienk. Versiersuiker, melkskommel, draairoomys, my gunstelingrok, tutu’s! Ek verf summier ’n muur in ’n sagte wasempienk om asem te gee aan die huis wat so lank vol winter was. Ek gooi die vensters oop en laat die buitelug deur die huis loop soos ’n nuuskierige kind wat aan alles vat, koppies optel, loer in kaste, want dit raak lente en dis tyd vir vernuwing.
Daar’s ’n pienk vir elke smaak: perspienk, borrelgompienk, rosige geelpienk, bougainvillea-partytjiepienk, die sagte stofkleur van aardse pienk … skakerings wat ons lewe ’n nuwe ritme gee. Iets tussen bokspring vir rooi en rustige wit, pienk is huppel!
Die lente is ’n seisoen met soveel potensiaal – maar wees gaaf met jouself, dit was ’n tawwe winter. Wees kalm soos pienk – vol moontlikhede…
