Oorweldigend en helder. Dit tref jou tussen die oë. Jy voel byna jy het jou sonbril nodig! Neonpienk, weerligblou, suurlemoengeel, borrelgompienk, pampoenoranje en lemmetjiegroen. Materiaal met groot patrone, kontrasterende teksture en kleure, en muurpapier wat lyk of dit uit die disko-era ontsnap het.
Dís die leefvertrek van ’n vrou wat glo die kleure lig haar plesiervlakke, skryf Cosmopolitan in ’n artikel oor geesteswelstand. Sy is ’n depressielyer en het tydens die pandemie met dopamiendekor begin eksperimenteer.
Momtaz Begum-Hossain, die vrou met die reënboog-haarstyl en skrywer van Hello Rainbow: Finding Happiness in Colour, gebruik woorde soos kragtig, energiek en impak om die invloed van dopamien-kleure op die gemoed te beskryf. Die regte ‘gelukkige’ kleure kan jou ‘hoog’ laat voel danksy die afskeiding van die breinoordragstof dopamien, glo sy.
Dié goedvoelhormoon…