DIE onsekerheid wat Rusland se dreigende inval van die Oekraïne vir Europa se energiesekerheid meebring, kan ’n teken wees van die onstabiliteit wat die wêreld se oorgang na volhoubare energie kan meebring, omdat dit petrostaat-leiers soos Vladimir Poetin, die Russiese president, tydelik kan bemagtig voor hul mag begin taan. Rusland voorsien in 40% van Europa se aardgasbehoeftes.
Namate genoteerde Westerse olie- en gasmaatskappye, soos Shell, Chevron, Exxon, BP en Total, hul produksie verminder onder druk van aktiviste en finansiers, sal staatsbeheerde fossielbrandstofmaatskappye in lande met die meeste reserwes, al meer van dié aandeel in produksie opneem, tensy die wêreldwye energievraag dienooreenkomstig met verlaagde produksie afneem. Die Westerse multinasionale fossielbrandstofmaatskappye produseer reeds net 15% van die wêreld se olie en gas, en sommige is van plan om hul produksie te verlaag.…