die lewe is kort en oorvol. Moegheid, histerie, bekommernis en woede is normaal. Die lewe is ook toenemend onbekostigbaar, daar moet planne gemaak word, goedkoper aangetrek word, goedkoper geëet word, tuisbly-vakansies aan die kinders verduidelik word, gesoek word na die goedkoopste vliegkaartjies, minder geskenke uitgedeel word. Tydens dié proses word vele noodsaaklike take eenkant gegooi, beloftes vergeet, behoeftes gesmoor en sensitiewe vrae doodgepraat. Die versorging van die siel word nie goedkoper nie, inteendeel, dit word duurder, moeiliker en al hoe skaarser. Die voeding van die sintuie, die onderhoud van die kreatiewe brein, die ontwikkeling van waarneming, die groei van die verbeelding, die respek vir waarde en tydloosheid, die rotsvaste daarstelling van standaarde en ’n kultuur van gehalte, hierdie dinge gaan stadig verlore, dag vir dag, ’n tragiese verlies vir hierdie…
