Grasieus swaai ou Grootvoet sy slurp, nes ’n Indiese danser haar arms. Soepel, vaardig, gekontroleerd.
Aanvanklik dink Eva-Lotta Jansson hy “sein” vir sy mater, dié een in haar kamera se lens. Maar nee, hy staan baie naby, op die damwal bokant haar, en daai “snorkel” werk oortyd! Dan besef sy hy is nuuskierig oor háár, hy beruik háár.
Miskien het haar geel-oranje Nissan Micra sy oog getref, soos ’n oorgroot nartjie in die vaal Afrika-bos. Die venster is oop en dalk ruik hy die impala-vleis wat sy die vorige aand geëet het, dink sy skuldig. Olifante is herbivore. Dink hy sy is ’n barbaar?
Of dalk hou hy net van blondines, ’n natuurlike een, boonop.
Dis ’n vreemde kombinasie: Die bosveld, geharde wêreld, en die bielies wie se natuurlike woning…
