‘Die dokter, ’n flambojante kêrel met ’n blommetjieshemp, kyk op van jou lêer op sy skoot en verklaar sonder seremonie: “Jy is baie vrugbaar.”
Dis nie vir jou nuus nie, dit bevestig net wat jy reeds weet, wat jou ma al sedert hoërskool betekenisvol en bekommerd vir jou sê.
So jy hou aan uitstel. 30 kom en gaan, 32, 34, 35. Jou ma het jou op 43 gehad, redeneer jy, jy het nog baie tyd. En elke aand drink jy die vaalgeel pilletjie met die soet, harde dop wat keer dat jy ovuleer.
Dan, op ’n dag, ses maande voor jy 36 word, dink jy dis nou of nooit. Jy bel jou ma en sê jy’t die Pil gelos. Sy sê jy sal nie weer menstrueer nie. ’n Maand later…