So, dit is dan hoe Hoofstuk Drie lyk. Vir so lank as wat ek kan onthou, glo ek elke lewe bestaan uit drie hoofstukke, Afhanklik, Onafhanklik en Doen Wat Jy Wil. Ek kon nie wag vir die laaste nie, Oupa en Ouma se lewe, geen pyne, baie kook, baie kuier, baie rondry, jou eie tyd. Dis hoe dit vir my gelyk het, dis waarna ek al sedert kindertye uitsien, nie Ma of Pa se grootmensdinge nie, wel Ouma se plesier.
Maar nou is daar die ontdekking dat Hoofstuk Drie nie die laaste is nie, dis ook nie die lewenslange fantasie nie, dis die een waaroor daar eers in die laaste paar jaar geskimp is hier en daar in ’n tydskrif of tydens ’n geselsprogram. Of Hoofstuk Vier se naam ooit…
