Dit boei lesers. Hóé ons besluit oor die stories in die tydskrif, hoe ons maak met die foto’s.
Ek huiwer altyd voor ek dié vrae beantwoord. Nie dat ek nie wil sê nie, maar waar begin ek? Dis ’n proses, sê ek dan gewoonlik. ’n Láng proses.
En dit ís. Weke se idees versamel, met mense praat, oplees, gedagtes vrye teuels gee, lyste van moontlikhede saamstel en dan die groot beplanningsvergaderings vir die groot kies: Een vir inhoud, een vir foto’s.
Wel, só doen ons dit by SARIE.
Kophou, dié moet ons. Daar moet iets vir elkeen wees – in lyn met die tyd van die jaar, vir seker relevant, die luim van die land in gedagte hou, ook die gemoed van lesers. Iets kleurryks wat inspireer, ’n bietjie pret,…
