Wat maak ’n plek “mooi”? Dié vraag het weer opgeduik toe ons in September die Weskusdorp Lambertsbaai binnery. Buite die plekkie verwonder ’n mens jou die een oomblik nog aan die vrolike veldblomskouspel langs die pad, en dan, plotseling, word jy gewerp in ’n oerwoud van ou fabrieke, brutalistiese geboue, sementtuine en asbesdakke – dinge wat nie eintlik die estetikus in enigiemand wakker maak nie.
Maar dan begin jy gesels met die 92-jarige oom Herman Redelinghuys, met die jogajuffrou René van der Merwe, die restaurateur Bertina Engelbrecht en ’n rits ander mense, en voor jy jou kom kry, kyk jy met nuwe oë na die dorp. Hier, dink jy, sal jy maklik kan bly, al het die vis en die kreef jare terug die wyk geneem en al word vars…