Ek kry woonwaparke en kampplekke soms bitterjammer. Dit kan nie maklik wees om jouself aanloklik te laat klink sonder om die een cliché ná die ander uit te ryg nie.
Dis amper soos daai advertensies in die “Hoekie vir eensames” of “By die opsitkers”: “Opgevoede, kerkgaande (NGK) oujongkêrel met merinoplaas en vriendelike persoonlikheid, soek enkelopende dame wat hou van die plaaslewe, buitelig (sic) en dans” of “Weduwee, jonk van gees, wat hou van koekbak, naaldwerk, lees en mooi musiek, soek sielsgenoot met sober gewoontes, ’n goeie sin vir humor en eie vervoer.” Al wat ’n mens uit hierdie advertensies kan aflei, is dat die oujongkêrel waarskynlik ’n kluisenaar op ’n Karooplaas is wat praat van Gatjieponders en op soek is na iemand om afval te maak van hanslammers. Die weduwee…