G’n mens oordryf as hulle sê ons woon in ’n groot land nie. Suid-Afrika is immers groter as Frankryk, Duitsland, Switserland, Oostenryk, België, Nederland én Tsjeggië... sáám! Om ’n landreis deur Suid-Afrika aan te durf is dus geen geringe prestasie nie, en tog is só ’n reis vir ons nie ongewoon nie.
Pleks van die besige N1 ry ons agterpad langs – van die oudste staatsgebou in Johannesburg, die Ou Fort, tot by die oudste staatsgebou in Kaapstad, die Kasteel die Goeie Hoop. Die afstand tussen die twee is 1 262 km, soos die kraai vlieg, en ons ry die direkste roete tussen dié twee geboue, verkieslik met agterpaaie.
Om dinge verder interessant te maak verbeel ons ons die rit is van die planeet Neptunus af tot by die Son.…