Die meeste wildebeeste is nog nie hier nie. Dis Oktobermaand en die duisende waarvoor die Serengetigrasvlakte bekend is, is nog op pad uit die noorde, van Kenia se kant af.
Ons sien heelwat Thomson se gaselle, wat met hulle swart systrepe baie na ons springbokke lyk.
Maar die belangrikste is dat óns nou hier is. Ons het in net meer as vyf weke al die pad uit Suid-Afrika tot in die Serengeti gery; met verskeie stilhouplekke langs die pad: Zambië, Zanzibar, Kilimandjaro, Ngorongoro...
Ek en my meisie, Alice Inggs, het die Toyota Fortuner gepak: van kamptoerusting tot ’n dieselkan (dié noodvoorraad het ons nog nie nodig gehad nie), blikkies vis tot biltong (laasgenoemde is ongelukkig al gedaan), neute tot NikNaks (die laaste pakkie is vandag in Alice se keel af).…
