Stappers stroom al jare lank na die strande, woude en heuwels rondom Plettenbergbaai. En hiermee bedoel ek nie die afgelope jaar of twee nie, maar ja-a-are al – van die eerste mense wat die aarde bewandel het, tot soveel as 160 000 jaar gelede, het dit in dié geweste gedoen.
Hier by die Matjiesrivier-skuiling waar ek nou staan, sowat ’n halfuur se stap oos van Keurboomstrand se hoofstrand af, kyk ek na ’n antieke vullishoop waarin duisende jare se geskiedenis opgestapel lê (’n “midden” in Engels). Dis ’n plek waar die oorspronklike strandlopers en hulle voorsate hulle oorskiet weggegooi het: skulpies, beentjies, groente, grate, as en bietjies gereedskap en potskerwe.
Die hoop is vandag nog 30 m lank, 15 m breed en 10 m diep, en die argeoloë lees dit…
