Toe ek my jare gelede in Mexiko bevind, het die kos my meer verstom as die strande. Daar was baie rys, boontjies en handgemaakte mielietortillas op die spyskaarte, maar ek het nêrens ’n chilli popper, hope gesmelte kaas of oorweldigende sterk rissiesouse raakgeëet nie. Inteendeel, die kos was eenvoudig en smaaklik, maar nie sterk nie. En ek kon self kies watter van die souse ek wou probeer.
Tot onlangs het dit baie moeite geverg om self lekker Mexikaanse kos te maak, maar deesdae kan jy salsa wat met chipotle (gerookte jalapeñorissies) gegeur word en tortillawraps in die meeste supermarkte kry. Ander geure wat kenmerkend is aan Mexikaanse kos, is sjokolade, lemmetjies, swartbone, avokado’s en suurroom.
Maar die hoofbestanddeel van ’n Mexikaanse maaltyd is ’n gees van vrolikheid, mededeelsaamheid en oorvloed.…
