Nou ja toe. Toe ek my oë uitvee, sit ek met my handjies gevou in Desember. Die maand van dink (oor my sondes, en my no.38-middel), en die maand van “dankie” en “jammer” sê vir die jaar se gunsies én flops.
Dis asof ’n wolkbreuk van nostalgie in Desember oor my bars. Ek is gespanne, emosioneel, vodde, olik en ek soek ’n break – nes die res van die planeet se bewoners. Ek is lus vir lag, waatlemoen, spookasem en ’n visum na ’n Schengen-staat (Italië, asseblief...). Ek wil saddle-tjoppies van die rooster af eet, tafels dek, drankies met tonne ys en brandkoue biertjies drink, en aan galjoene smul wat uit foeliejassies kom.
Ek wil by my mense wees en net vergeet van die goed wat die afgelope jaar skeefgeloop…