KARKLOOFWATERVAL, KWAZULU-NATAL
Vat ’n piekniekmandjie en hou stil waar die Karkloofrivier oor ’n krans stort tot in ’n vallei waar die inheemse woud dig staan. Die Howickwaterval kry al die aandag, maar die nabygeleë Karkloofwaterval is die 16 km-rit werd. En, ek wil nou nie hare kloof nie, maar Karkloof ís 10 m hoër as Howick...
Die piekniekplek is skoon, hier is toiletgeriewe, en sekerheidswagte is aan diens. Toegang is gratis vir die publiek.
Aanwysings Die waterval is nie in die Karkloof-natuurreservaat nie (dié word privaat besit deur Rock-wood Lodges); dis in die middel van ’n bosbouplantasie. Ry 9 km noord van Howick af op die Karkloofpad, en draai dan regs op die Karkloofwatervalpad. Ná 6,5 km se kronkel deur bome op ’n grondpad langs, kom jy by die uitkykpunt…
