Inhambane, Barra, Tofo... Die name alleen klink eksoties. Ja, Mosambiek se Inhambane-skiereiland is die soort plek waar eilandclichés gebore word: lou turkoois water, palmbome wat in die bries wieg, drankies met sambreeltjies, skulpe, kokosneute... Kyk, sodra jy deur die Komatipoort-grenspos is, wéét jy jy is in ’n ander land. Die ganse Mosambiek het ’n eksotiese gevoel – soel weer, sakkies kasjoeneute wat in bome langs die pad hang, graffiti van 2M-biere teen geboue.
Maar dis eers sowat 100 km anderkant die stad Xai-Xai dat jy by daai tipiese poskaart inry – dan verander die landskap. Eensklaps sien jy weerskante van die pad daai universele simbool van vakansie: die palmboom. Welkom in die Inhambane-provinsie! Op ’n kaart kan jy sien hoe die Inhambane-skiereiland wegbeur van die vasteland en ’n baai vorm…
