Ek het ’n voëltjie hoor fluit oor die uitgebreide netwerk van staproetes en -basiskampe tussen eNtokozweni (Machadodorp) en eManzana (Badplaas) in Mpumalanga. Noemnoem, High Five, Mount Komati, Oom Paul, Bloutrein, Bermanzi, noem maar op... Een van die beste maniere om die Skurweberg in die verre noordooste van die Drakensberg te ervaar is op die High Five-oornagroete (voorheen die Noem-noem –sien kassie op bl.43).
Ek en my man, Hancu, het die roete twee keer in een jaar gestap én ’n paar van die dagroetes. Op dié roetes stap jy in die wind op die Hoëveldse eskarp, klim oor die rand, kronkel deur klipdoolhowe, vleg deur die gras en staan gereeld in die skadu van woudreuse.
Die kok-kok van die bloukuifloerie volg jou dwarsdeur die bos. Die gladde boomwortels dwing jou oë…